More Website Templates @ TemplateMonster.com - August 1st 2011!

Geskiedenis

Die preekstoel met die kanselkleed wat lui "Heilig Heilig Heilig is die Here"  Die drie kanselstoele van Burmese kiaat is ontwerp deur mnr.  Ben Terblanche, gemaak deur mnre. M.J. van der Mescht en P.A. Theron en gestoffeer deur mnr. Maclachlan.
Die timmerwerk van die gewelf en die van die res van die gebou is in Port Elizabeth gemaak en ten dele aanmekaar gesit, per ossewa na die perseel vervoer en toe gemonteer.  Die banke is destyds van Oregon-den gemaak, 'n duur, skaars, ingevoerde houtsoort van die vorige eeu.  Geel- en stinkhout was volop en is miskien as minderwaardig beskou.
Die leuse bokant die orrel wat aangebring is toe Afrikaans al goed as kanseltaal gevestig was, is op 'n blikplaat geverf.  Indien dit uit die Nederlandse Kanselbybel van 1859 geneem was, sou dit gelui het " ... en in deze plaatz zal Ik vrede geven ...".

Die gemeente Graaff-Reinet is gestig op 11 November 1792 en die eerste kerkgebou was vermoedelik laer af in Kerkstraat - heel waarskynlik was dit die oorspronklike plaashuis van Dirk Coetzee. Ds Johan von Manger was die eerste leraar - hy het ongelukkig nie notules gehou nie. Sy opvolger in 1798, ds HW Ballot, het deeglik notules gehou waarvan die eerste een van 8 Julie 1798 deur MW Pretorius (vader van die bekende Voortrekkerleier Andries Pretorius) onderteken is. Hierdie eerste gebou het in 1799 afgebrand.

Ds Andrew Murray word deur dr George Thom van die Londense Sendinggenootskap na Suid-Afrika genooi. Dit was op versoek van Goewerneur Lord Charles Somerset dat predikante na Suid-Afrika genooi moes word om die wydverspreide bevolking op die platteland te bedien.

Die tweede gebou is voltooi in September 1800 op die huidige perseel waar die Grootkerk staan. Na die aankoms van ds Andrew Murray in 1822 is daar dadelik begin met die oprigting van die derde kerkgebou. Die vorige een is geheel gesloop en dienste is in die opelug en op plase gehou. Hierdie gebou (die derde een) is in 1823 voltooi. Die gebou met sy strooidak, statige gewels, kloktoring en ringmuur het die gemeenskap vir 60 jaar bedien.

Ds Andrew Murray is vir tien maande voor sy koms Holland toe om Nederlands aan te leer. Hy trou dan ook kort voor sy aankoms in Suid-Afrika met Maria Susanna Stegman. Hy was baie gelukkig in sy nuwe vaderland en het homself aan sy nuwe werk en mense gewy met soveel onbaatsugtige toewyding dat hy 'n noodsaaklike deel van hul lewens geword het. Hy en sy seun (wat hom opgevolg het), ds Charles Murray, het saam 82 jaar diens aan die gemeenskap gelewer! Hulle was gashere vir baie besoekers aan Graaff-Reinet soos onder andere Moffat, Livingstone en Broadbent wat by hulle aan huis vertoef het.

Ds Charles Murray het groot belangstelling in tuinbou gehad en dit is hy wat in 1870 die beroemde swart-eik druiwestok agter sy pastorie - die huidige Reinethuis - geplant het. Hy was die eerste Graaff-Reinetter wat predikant hier geword het.

Die huidige kerkgebou is gedurende ds Charles Murray se bedieningstyd opgerig. Met die landswye herlewing in die laaste helfte van die 1800's asook die groei in die gemeenskap, het die bestaande gebou te klein geword. Daar is toe besluit om die bestaande gebou af te breek en een te bou wat groot genoeg sou wees om die mense te huisves - vandaar die bynaam "Grootkerk".

Dit is in die Neo-Gotiese boustyl gebou. Die Kaapse argitek J. Bisset het dit ontwerp met aspekte van die Salisbury Katedraal in Engeland in gedagte; die boukontrakteurs was Grant & Downie. Die koste van die materiaal is laag gehou, want die gemeenskap het die klippe en vervoer voorsien. Die totale koste was R31 600 plus 'n verdere R2 460 vir die ringmuur. Die toring is 45.72 meter hoog en die klok in die toring weeg 'n reuse 1 720 pond (781 kg). Die klok het lank gedien as amptelike tydaanwyser vir die gemeenskap. Die kerk bied sitplek aan 1 500 mense. Die vensters is van loodglas en die deure van soliede kiaathout - so ook die indrukwekkende preekstoel. Die banke is van Amerikaanse Greinhout gemaak. Tot 1941 moes gemeentelede hulle sitplekke huur teen ongeveer 50 sent - 75 sent per jaar. Die gebou is op 21 Maart 1975 as 'n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

Met die hoeksteenlegging van die kerk op 12 April 1886 was dit die vierde gebou van hierdie gemeente wat toe reeds amper 100 jaar bestaan het. Die hoeksteen is deur ds Andrew Murray se weduwee gelê en daar word uit 1 Petrus 2:5 voorgelees. Muntstukke en geskiedenis van die vorige kerkgeboue word onder die hoeksteen vasgemessel. Dis jammer dat ds Andrew Murray nie die huidige kerkgebou kon beleef nie.

Die inwyding vind plaas op 10 en 11 September 1887. Prof de Vos van Stellenbosch lewer die inwydingspreek. Vrouens moes die kerk van die sykante af binnekom en geen kinders is toegelaat nie. Daar was omtrent 2000 mense teenwoordig. Veertien leraars is uitgenooi en 8 preke is gelewer. Daar was ook 'n pragtige koorprogram onder leiding van Fraulein Bau, die eerste orreliste. Werke van onder andere Haydn, Mendelssohn en Spohr word aangebied. Tydens ds Andrew se bediening het georganiseerde musiek nie baie aandag gekry nie. Die Sondagskool en kerkmusiek was egter vir ds Charles van groot belang. Die indrukwekkende huidige orrel is op 17 Februarie 1894 ingewy.

Ds Charles gee baie aandag aan die kinders. Daar was op 'n stadium 600 kinders in die Sondagskool! Sy suster, Helen, verwys as volg na hom: "To him education was not merely die cultivation of the intellect, but an all-round character building and development of the Spiritual and moral nature of the child, quite as much as the training of the mind."

Baie ander bekende predikante het die gemeente bedien: daar was bv. dr DF Malan (voormalige Eersteminister); AB Keet (Bybelvertaler); PK Albertyn (eerste preek in Afrikaans gelewer) en Joshua Naude (veldprediker van Gnl. Koos de la Rey tydens die Anglo Boereoorlog en vader van die bekende Beyers Naude) was vanaf 1921 to 1948 hier predikant.

As ons vandag na die Grootkerk kyk, is daar so baie om oor dankbaar en nederig te voel. Die imposante struktuur en gemeente is simbolies van wat die mens in die eens onherbergsame dorre Karoo met die hulp van hul Hemelse Vader bereik het.